Slaap soos ‘n baba… pfff!

Slaap soos ‘n baba… pfff!
Slaap soos ‘n baba… pfff!

CN2R1117-Edit

Ek moet eintlik die blog “The nursing notes” noem want dit is al wanneer ek tyd kry om te blog en ook net op my foon, so verskoon maar as ek soms kortaf is of foute maak… My rekenaar gaar stof deesdae en dit nadat ek op ‘n tyd dag en nag ge- design of -edit het!  Maar nou ja, so tussen die malheid wat ‘n tweeling huishouding is (oh my goodness ek klink al klaar so en hulle is nog maar 5 1/2 maande oud) kom ek deesdae meer daarby uit om te blog.

Dis nie asof ek nie “stoffasie” het om oor te blog nie…

Blogging gedagtes maal daagliks in my kop, maar moegheid wen altyd en ek vind myself rusteloos staar in die “abyss” met die kry-my-jammer- look op my gesig wanneer ek nie lus was om die 30 min wat die tweeling geslaap het deur die dag te probeer gebruik om aan die slaap te raak nie.  Dit was soms hopeloos want dit het my langer as dit gevat om aan die slaap te raak en hulle raak nie gelyk aan die slaap nie so ek het in werklikheid eintlik net 15 min gehad om te slaap! Slaap het ‘n nuwe betekenis vir my gekry.

‘n Mens verstaan nie regtig wat ‘sleep deprivation’ doen voor jy nie daar was nie. Dis nog een van daardie dinge wat almal vir my voor die tyd gesê het wat ek nie regtig kon kop kry nie: “Slaap nou baie, jy gaan dit nodig kry!”  Ok ek verstaan nou.  Ek moet sê die afgelope twee weke het dinge baie goed begin gaan en nou kan ek nie meer kla oor slaap nie.  Juis hoekom ek nou weer tyd het vir blog. In die verlede was ek saans gemiddeld 10 keer wakker, so ongeveer een keer per uur plus nog tussenin.

Maal dit met twee… wel dit was soms elke halfuur.

Ek kon nie eers ordentlike “logs” maak nie want ek was nooit seker of ek ‘n nuwe inskrywing moet maak nadat ek 15 min terug wakker was, en of dit eintlik net nog deel was van die vorige wakker nie!  Die log hou ook net die eerste deel van die aand want later vat die minute wat dit my vat om dit te log net te veel tyd van slaap weg. Dit het eintlik van die begin af baie goed gegaan.  Tot op 6 weke het hulle net geslaap.  Ek moes Hanlé omtrent poke en met lappies koud maak en allerhande dinge doen om haar net te kry om half wakker genoeg te wees om te latch en dit het soms nogsteeds 10minute gevat om haar wakker te kry.

As ek hulle nie elke 3 ure in die nag en 2 ure in die dag wakker gemaak het om te drink nie, het hulle net eenvoudig nie wakker geword nie.  Dit was ongelukkig nodig agv hulle lae geboorte- gewig anders kon hulle bloedsuiker baie vinnig te laag daal, anders het hulle moontlik nou nog deur geslaap.  Ek het ook nooit gekyk na slaap metodes nie, want vandat hulle meer bewus van die wêreld geraak het, het dit net so goed gegaan.  Bedags, wanneer hulle wou slaap het ek hulle aan die slaap gemaak en hulle het dadelik geslaap.  Voor slaaptyd het hulle gedrink en aan die slaap geraak, gaan slaap en wakker geword vir voedings 1 uur en 3uur… geen probleem.

Dit was tot hulle 4 maande oud geraak het!

Johan was daardie hele maand weg met werk so ek het meestal alles alleen gedoen (met hulp van Misai en my skoonma en skoonsuster hier en daar).  Middagslapies het min geword en hulle het menigte male in die nag begin wakker word. Dis nie dat hulle ooit wawyd wakker was nie, maar dis asof hulle dwars deur die nag nie regtig gesettle het nie. Voedings het 11 uur, 1uur, 3 uur en 5uur begin word en alles tussenin was “unsettled”.  Eers het ons die kot teenaan die bed geskuif dat ons nie so baie hoef te hardloop om by hulle uit te kom nie en dat hulle nader voel aan ons maar geen verandering nie. Toe het ons hulle dadelik in die bed getel sodra ons gaan slaap ipv eers in die oggend ure maar die wakker- word het net meer geword. On het ook vreeslik moeilik geslaap so almal in een bed want daar is net nie genoeg spasie vir ons en twee babas nie tsv ‘n King size bed!  Toe bou ons co-sleepers!!!

Co-sleepers1

Ek weet dit lyk belaglik maar ons was desperaat!  Dit was nou chaoties… As die linker een honger is en Johan is links dan moet hy opstaan dat ek kan oor rol.  Dan moet ek daarna die regter een voer anders is ons heel nag op.  Nou moet hy weer wakker word en opstaan wanneer ek nommer twee voer en ander kant toe gaan dat ek kan oor rol.  Die volgende voeding was ook nooit die een aan my kant wat eerste wou drink nie en ons moes dan maar weer dié rolle doen.  Dit het ook ‘n rukkie gevat om hulle gewoond te maak om apart van mekaar te slaap, maar dit was nodig omdat hulle mekaar wakker maak en so die slaap tyd nog minder maak.  Ons het wel ook ‘n ruk probeer om hulle altwee in een co- sleeper te sit…

Co-sleepers2

Dit het ook nie gewerk nie want jou rug kan dit nie hou om so baie kere in die nag so te rek om tot by die bokant van die co-sleeper te kom nie.

Eventueel het ons besluit om die hele storie anders te doen.  Ons skuif hulle toe na hulle eie kamer toe met ‘n dubbel bed in en verander toe die co-sleeper om te werk met daardie bed…

coslepeer1 coslepeer2

Dit het baie goed gewerk en ons het ook die kot aan die ander kant van die bed gesit vir Hanlé wat min wakker word as sy nie die beweging van die bed van ons of Pieter voel nie.  Johan het begin om nagte af te wissel met my en gee dan vir hulle “expressed borsmelk” of bokmelk formule (aangesien hulle weier om formule te vat) wanneer ek nie by uitmelk uitkom nie.  Ek het ook begin om te aanvaar dat ek nie superwoman is nie en soms Misai toegelaat om na hulle te kyk dat ek ‘n middagslapie kan vat en sy het ook nou begin om een keer ‘n aand vir ons af te gee.

Ons het ook ‘n fan- heater gekry om white noise te maak want die cd het nie regtig vir ons gewerk nie en ‘n lekker klomp spa musiek gekry wat natuur geluide en meestal harpe het wat net klanke maak en nie regtig spesifieke deuntjies het wat hulle kan sync met hulle slaap patrone nie.  Ons het lavender olie met ‘n kersie begin brand om hulle beter te laat slaap en ons het ook die dummies begin beperk deur die dag en net vir hulle begin gee wanneer hulle dit gevra het wanneer ons hulle aan die slaap maak ipv om hulle altyd daarmee aan die slaap te maak.  Hulle vra nou net so 0-3 keer in die nag vir die dummies waar dit altyd die hele nag deur was!  Ek dink amper dit was ons grootste vyand.

Ons het ook Elizabeth Pantley se boek gelees en die metode gevolg waar mens hulle neer sit net voor hulle aan die slaap raak sodat hulle gewoond raak om self aan die slaap te raak en in die nag verder te slaap wanneer hulle wakker word.  As hulle nie aan die slaap raak nie reageer jy steeds wanneer hulle huil, maar jy tel hulle elke keer op en sooth hulle todat hulle beter is, maar sit hulle terug in die kot om hulle self te sooth net voor hulle aan die slaap raak.  As hulle weer wakker word doen jy dit weer en weer totdat hulle amper slaap en sit hulle weer neer.  Alhoewel dit baie werk van die ma af vat en langer vat om hulle te laat “self sooth” as die “Cry it out” metode, leer jy die baba om self te sooth sonder dat dit nodig is om hulle te laat huil.  Ek moet sê dit is nou twee weke vandat ons die metode begin gebruik het en ons is al op ‘n punt waar ons hulle dikwels net kan neersit om te slaap.  In die verlede was dit amper onmoontlik en het dit soms ‘n halfuur gevat elke keer om hulle aan die slaap te kry, dag óf naf.  Soms moet ons nog ‘n ou handjie vashou vir 5 minute of so maar wie gee nou om, om dit te doen af en toe… hulle word so gou groot en hulle gaan ons nie verwig toelaat om hulle handjies so lekker vas te hou nie!!  Hulle slaap nou ook al een lekker lang slapie van soms twee en ‘n half ure deur die dag wat groot vordering is en dit maak ook dat hulle goed slaap in die nag.

Ek moet sê ek het respek vir mammas wat ander maniere gebruik as ek, al is dit maniere wat ek nie self volg nie want ek weet agter menigte se besluite sit ure se navorsing en ure se wakker wees voor die besluit geneem is. Elke persoon het ook ‘n verskillende setup by die huis en verskillende behoeftes… verskillende verwysings raamwerk van waar die besluit geneem is.  Ek hoop net dat ek dieselfde respek sal ontvang vir my besluite want net soos ander het ek ook ure se navorsing gedoen en menigte taktieke probeer tot waar ek nou is en dit is wat ek maar probeer solank dit vir my werk.  Ek het besef dat kinders regtig so baie verskil en sekere metodes net makliker werk met seker kinders.
Of ek die regte dinge doen, weet ek nie altyd nie maar ‘n vriendin quote noudiedag dr James Dobson “The average child can survive the average mistakes made by the average parent” en ek dink nie ons moet vergeet van die klem op die “average” nie, maar dit het my nogal laat dink…  Ek het baie gewonder oor of ek nou die regte ding doen maar ek weet wel dat solank ek vrede het oor my besluit, is dit die regte besluit vir ons setup, by ons huis, met ons verwysingsraamwerk en ons kinders want vrede kom van God af, nie twyfel nie!
Toe ek gesukkel het om swanger te raak, in daardie 5 en ‘n halwe jaar het ek soms in die aande gekyk na die stad se liggies wat so flikker en kon ek amper sien hoe elke een van daardie flikkerende liggies ‘n ma verteenwoordig wat haar kinders se ligte af sit en die kombuis se lig aan sit om ‘n koppie tee te maak.  Vandat ek kinders van my eie het, wonder ek oor elke liggie wat afgaan…  hoe slaap elkeen van daardie babas in die nag? Maar meer belangrik, hoe slaap daardie ma?  Of hoe gaan ek slaap?  Nou ja, wat kan ek dan anders doen as om net vrede te hê in my hart en ‘n koppie tee te gaan maak want vanaand mag dalk net ‘n goeie aand wees…

Leave a Reply