Photo Credit: Chris du Toit
Om anders te wees as wat die res van die wêreld is, is nie maklik nie. Dit kan beteken dat jy baie van jou vriende sal verloor en menigte ander opofferinge moet maak wat jy wens jy eerder nie hoef te gemaak het nie.
Om anders te wees het iets anders vir my beteken toe ek jonger was. Dit het beteken dat ek ‘n Jesus- freak is en die wêreld wil verander en my menings, waarin ek glo en waarvoor ek staan soos ‘n veldbrand wil versprei. Dit het beteken dat a dink ek is anders en ek het gedink ek gee nie om wat ander van my dink nie.
Nou dat ek ‘n bietjie meer volwasse is, beteken “om anders te wees” amper die teenoorgestelde! Dit beteken dat ek net soos Moses en Jona wens ek was nie anders nie en dat ek weet ek gee eintlik om wat ander van my dink. Dit beteken dat ek Jesus wil leef en nie wil uitgaan na ander toe om my menings soos ‘n veldbrand wil versprei nie maar eerder mense deur my leefstyl wil aanmoedig om hul eie menings te vorm en dat ek ‘n instrument vir God wil wees om net dit wat Hy wil hê hulle moet in my sien aan hulle sal openbaar op die gegewe tyd wat hulle reg is daarvoor. Dit beteken dat ek hoop dit sal my kinders iets leer van God in my leefstyl, dat Hy iets uniek aan hulle ook sal openbaar en dat hulle ook Jesus sal wil leef.
Dit beteken dat ek uiteindelik weet wat my rol in die Liggaam is en ek het ook besef hoe God soms die Liggaam korporatief aanmekaar sit en dat Hy soms ‘n gesin en selfs ‘n familie, net soos duisende jare gelede in dieselfde rigting stuur om saam ‘n deel van die Liggaam te verteenwoordig. Ons kyk soms so vas aan waaraan ons gewoond is, of wat ons geleer is dat ons vergeet God werk op legio maniere.
Ek kan maar net bid dat ek nie my ware vriende sal verloor in my proses om anders te wees waarteen ek vir so lank geskop het nie en dat ek nooit ‘n mening op iemand sal afdwing, of selfs net lig daar op sal sit tensy God dit op my hart gedruk het nie, en dat my oë oop sal wees en my hart ontvanklik vir die tye wat Hy wel nodig het dat ek daaroor moet praat. Ek bid ook dat niemand ooit sal bedreig of veroordeel sal voel deur my andersheid nie, want daardie gevoelens kom nie van God af nie, maar dat Sy vrede en insig op die gegewe tyd en plek sal heers.
Ek moedig elkeen van julle aan om te dink oor jou plek in die Liggaam. Soms is ons klaar waar ons moet wees en soms het die lewe maar aangegaan en ons rol verander maar het ons gemis waar God wou gehad het ons moes wees. Mag jy in Hom wees en Hy in jou!